Sewe jaar gelede het die bure se kat probeer om by ons aan te sluit. Ons het reeds twee katte gehad en hom probeer weghou, maar hy sou buite ons toegesluite huis bly wag. Wanneer hy die kans gekry het, het hy ingekom en op my skoot kom lê. So het Sokkies deel van ons en veral my lewe geword. Hy het my gevolg trappe op na die studeerkamer, op my rekenaardrukker gewag tot ek gaan slaap en dan kom saamslaap. Vroeg oggend het hy in die badkamer gewag selfs as ek stort en dan saam kombuistoe vir ontbyt. Gedurende 2013 het ek ernstig siek geword en spontaan het al drie katte hulle dag en nag op my bed tuisgemaak- Sokkies altyd vas teen my. Onlangs het hy minder begin eet en is gediagnoseer met 'n ontsteekte tand. Hy het nie weer uit die diere-hospitaal gekom nie. Ek het finaal afskeid gaan neem van my skaduwee van 7 jaar en is oortuig dat wanneer 'n mens naby aan jou diere is hulle 'n aanvoeling vir jou eie situasie het. Soms praat ek nog met hom.
© fanie marais, 2014
© fanie marais, 2014